Deur Marley
Nie eens die reënbui wat uitgesak het op Vrydag 27 Oktober 2017, kon Fokof fans weghou van Jock Pub and Grill waar Fokofpolisiekar opgetree het nie. Selfs ‘n paar mense met nat broeke op Facebook wat gesê het om die show te boikot kon maar hulle kon gaan vlieg het. Daar was fans van alle kleure en geure. Oues en jonges. En dit was vir ‘n groep wat Suid-Afrika op hornings geneem het 14 jaar terug.
Nelspartans kon net nie hulself inhou weke voor die show nie. Daar was haarfyn beplanning en ek moet sê aan Jock dat hulle seker gemaak die fans is veilig (en het ‘n lekker tyd). Selfmedikase, die album, wat deur crowdfunding moontlik gemaak is, het soveel indruk al geskep in die laaste paar weke dat die fans elke woord saam gesing het. Die Bellville boys het die klein man-made stage warm gespeel. Francois van Coke in sy hoë energie vertoning het die fans aan sy lippe laat hang. Selfs die media het gehelp die heining ophou anders was daar nou weer ‘n musikant wat deur die stage val!
Hunter Kennedy, met sy rasper stem, het baie fans om hom gehad soos bye om ‘n heuningkoek. Die main liedjieskrywer moet kudos kry vir die liedjies op die nuwe album soos “FLVJ”, “Parkie bank” en “Dis in my bloed baby”. Alhoewel ek moet bieg my gunsteling is “Komma”, dit is ‘n goue liedjie nes “Ek skyn (heilig)”. Die Fokofpolisiekar manne het ook ander gunstelinge gespeel soos “Fokofpolisiekar”, “Brand Suid Afrika”, “Dagdronk” en “Tygerberg Vliegtuig”. Die gees in Jock was ongelooflik en die saamsing was regtig hoendervleisoomblikke.
Ek moet noem dat daar een fan was wat heel voor was. Hy het enkel alleen vir Francois gevang toe hy besluit het om te crowd surf. Die meneer is slegs 21 en ek is seker in sy huis is Fokof groot. Dit was lekker om met iemand te chat van daai ouderdom wat weet waaroor alles gaan. En nie net ‘n bliksem wat nou weer net ‘n vrugtekoek is nie.
Maar deur die sweet, warm snare en mense op die verhoog het die aand se vertoning afgesluit. En natuurlik is die fans almal soos ‘n klomp kloekhoenders voor die merch tafel waar jy Fokof merch soos vinyls, t-shirts, CD’s, ‘n verlore “Storie van ‘n Bende” boek en baadjie patches kon aanskaf. Alan Meyer, wat ‘n bekende gesig is in die musiek merch tafels, het bond gestaan om almal te help. Natuurlik hand tekeninge, hand skud en fotos op fotos is geneem.
Toe ons weg sluip net na middernag en ons by die huis kom is die glimlag nog steeds op my gesig. Ek was weer 23, ek was weer opgelig, ek was weer vry vir daai aand. Om te geniet wat ek kon geniet, Fokofpolisiekar live. Dankie ouens, vir julle musiek en die show. Dankie dat julle darem ou Nelsparta op julle kaart gesit het en hierdie plek aan die brand gespeel het.