Neil Sandilands & Die Band live Nagkantoor, Kaapsehoop
Die “Neil Sandilands Gedoente” bring instrumente, blikke, baard en sakke vol truuks na ’n opstal daar naby jou, van die 1ste Julie tot die 22ste Julie, 2023. Ons is bokvetblink opgewonde om te kom note gooi! Hierdie ryk, anderwêreldse vertoning bied van die mees begaafde musici wat ons pragtige land in aanbod het, en met die onkonvensionele, rasperige, aweregse Neil Sandilands aan’t stuur van sake, is jy in vir ’n ding!
Die ander skerpskuttermuskante op die wavrag is die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert (van Oppiestoep-faam), die kitaarspeler Frank Freeman en hun Ingilsman (darem met Ierse bloed), Ronan Skillen, op perkussie. Hy slaan enige ding van ’n crankshaft tot ’n Indiese tabla en als tussenin.
Vra enige iemand wat al een van die besonderse vertonings beleef het; dis soos daai tweede koppie sawwelyf. Dit maak die lewe bietjie meer draaglik. Mens beleef die hele spektrum van emosies by een so ’n vertoning en voel ietwat ryker vir die belewenis. Dis presies wat die dokter aanbeveel vir hierdie winter van loadshedding, kranksinnigheid en allerande aapstreke. Sien jou daar, by Neil Sandilands se Wintertoer! Kaap tot Mpumalanga. Vatvas!