Deur Vanessa

As daar nou ‘n suksesstorie is waaroor mense moet praat, is dit die Fokofpolisiekar suksesstorie. Hierdie band loop ‘n lang pad saam met – wat ons by STM noem – die Fokof generasie. Daar is min mense oor die ouderdom van 30 wat nog nie by ‘n Fokofpolisiekar show uitgerock het nie. Die Fokof generasie is almal in besit van ten minste een van hulle studio albums, en kan gemaklik saamsing wanneer Francois Van Coke op stage die lirieke gooi met sy sterk stem en fokof attitude. Ons het saam met hierdie ouens grootgeword. Hulle musiek was nog altyd revolusionêr en het ons alternatiewe Afrikaanse denkers gemaklik laat voel met ons idees van anti-establishment, die norm wat nie so normaal nie en het beslis die inner anarchist in ons wakker gemaak, sonder om te bloos.

Ek het my eie persoonlike liefdesverhaal met Fokofpolisiekar. Om groot te word in ‘n klein dorpie en dan nog ‘n slaaf moet wees vir konserwatiewe onderrig in daai pre-demokrasie jare van die vroeë negentigs, waar die NG Kerk met ‘n ystervuis regeer, koeksisters die stapelvoedsel is en Engels die taal van die verraaier is, was nie maklik vir die anargis wie ek is nie. In daardie dae, het ons gepraat van die “P-woord” en die ergste swets was donner en bliksem. Enige iets erger as dit en jou ma het jou ‘n afgehekste loesing toegedien. En so het een moerse gedaanteverwisseling op ons gewag.

Toe hierdie band uiteindelik op die scene kom, was dit ‘n verligting om te hoor nie al ons Afrikaans-sprekendes is so naief nie. Trompie kon gay gewees het, Saartjie kon swart gewees het, en Liewe Heksie ‘n ateis. Deur hulle musiek, het daar ‘n absolute revolusie begin tussen jong Afrikaners wat skielik ballas gekry het om op te staan vir wie hulle is en wat hulle wil glo (of nie). Regs is nie altyd reg nie, en dis wat ek by Fokofpolisiekar geleer het en ek sal altyd dankbaar wees daarvoor. Miskien het hulle lirieke my verlos van die boeie van Calvanistiese, konserwatiewe Afrikaans-wees. Nietemin, dit het deure in baie mense soos ek se denkwyse oopgemaak na ‘n plek waar ‘n horison nie eens bestaan nie.

Dis deurlugtig wanneer musiek jou so kan bevry, en dan het hulle nog die foot-tapping rock kitare en kick ass dromme daarby. Dis vanselfsprekend dat hierdie band vandag ‘n groot gunsteling is vir Suid-Afrikaners. Hulle het turbo talent, en daai naam wat so skokkend was vir elke oom en tannie van die plaas, sal vir altyd op mense se lippe bly tot hulle eendag tot ruste kom die skoot van die aarde.

Ek het die afgelope weke baie tyd spandeer om na die nuwe album te luister ter voorbereiding vir hulle show in Nelspruit op die 27ste Oktober 2017. Dit is vir my ongelooflik dat Fokofpolisiekar se talente geen perke of grense het nie. Hulle het nie vrees as dit kom by ‘n progressiewe benadering ten opsigte van hulle musiek nie. En die album “Selfmedikasie” bewys dit absoluut 100%.

11 Jaar na die album “Swanesang” het Francois Van Coke, Wynand Myburgh, Hunter Kennedy, Johnny De Ridder en Jaco “Snakehead” Venter bymekaar gekom om hulle nuwe album “Selfmedikasie” op te neem. En, o my swak hart! They never cease to amaze!

Die alternatiewe denkers wat hulle is, het dit nie alleen gedoen nie. Hulle het na hulle lojale fans gedraai en een moerse suksesstorie van crowdfunding geword. In ‘n oogwink, het hulle oor ‘n een miljoen Rand ingesamel om die “Selfmedikasie” projek aan die gang te sit. En asof dit nie asemrowend genoeg is nie en om dankie te sê vir al die fans, het hierdie Bellville Boys ‘n toer aanmekaar geslaan wat skrik vir niks.

Wat ‘n eer dat hulle Nelspruit op die lys gesit het. Ons verwag hulle hier Vrydag, 27 Oktober 2017 en Wynand het tyd geneem uit sy besige skedule tussen lughawens en venues om ‘n paar vrae te antwoord:

STM: “Selfmedikasie” is op ALMAL se lippe. Ons self kry nie genoeg van hierdie nuwe album nie. Ons gaan nie lieg nie. ‘n Nuwe album was long overdue, want … wel, ons mis julle. En die music video vir “Dis in my Bloed, Baby”… liewe donner. Amazing! Vertel ons meer van die song en die musiekvideo. Wie het geskryf, wie het die musiekvideo se konsep uitgedink? Dis befok verby. 

FOPK: Dit is nie regtig ‘n music video nie, maar wat ons ‘n lyric video noem. Daar kom ‘n ‘proper’ music video begin Desember vir “Parkiebank, herfs 2017”. Die woorde is deur Hunter Kennedy en die lyric video is die album artwork met ander animated content. Ons wou iets uitsit saam met die album release en die lyric video roete vir track nommer een op die album was gekies. Dit showcase die album artwork en ook hoe die album afskop. Dis ‘n plekhouer tot die Parkiebank video kom 😃

STM: Waar het die titel #Selfmedikasie vandaan gekom?

FOPK: Ons het regtig hard probeer om met ‘n title op te kom wat nie weer ‘n song title is nie (soos met amper al ons releases in die verlede), maar na die song ‘Selfmedikasie’ geskryf was het daai titel ge-stick. Dit het begin om ‘n dieper betekenis vir ons te kry: Fokofpolisiekar was nog altyd vir ons selfmedikasie. Ons doen dit vir onsself en dit het ons oor die jare gehelp survive.

STM: Dit was seker moeilik om te skryf vir die nuwe album veral omdat julle ouens so besig is op soveel verskillende projekte?

FOPK: Ja dit is moeilik met almal se skedules en ook hoekom ons die crowdfunding roete gegaan het. Nadat ons die dream goal in 9 dae gemaak het, het dit ons gedwing om op skedule te bly en aan te hou skryf. Dit het ons ook geinspireer.

STM: Ons volg julle soos stalkers op Facebook.  Die toer blyk suksesvol! Wat kan die Nelspruiters verwag van die show wat voorlê? Hoeveel ou songs gaan julle speel, en hoeveel van die nuwe album?

FOPK: Ja, die shows LOOP! Daar is 5 nuwe songs in die set en dan ‘n klomp classics!

STM: Laastens, wat lê voor vir Fokofpolisiekar? Waar sien julle julself in 5 jaar se tyd? Gaan ons weer so lank moet wag vir ‘n nuwe album? Want dit lyk absoluut asof die creative juices vloei in al die regte rigtings.

FOPK: Nou dat die album uit is begin ons almal weer fokus op ander projekte. In die bedryf moet jy besig bly en ons almal hou van vorentoe beweeg. Ons is nie groot op stagneer nie. Op die oomblik is daar geen planne vir ‘n volgende album nie, maar ja ons voel inspired en ons kreatiwitiet is op ‘n high. Tog glo ek ons moet dit tyd gee voor ons aan ‘n volgende album dink. As ‘n band gaan dit met ons goed en ons almal kom super goed oor die weg met mekaar (soos nog altyd). So ek sien nog ‘n lang future vir Fokof, maar nie ene wat ‘n gejaag is nie.

STM: En HEEL LAASTENS: ons sê baie dankie vir die revolusionêre musiek! Julle het baie mense se perspektiewe oor baie dinge verander. Was dit die doel? Of was die doel maar net om julleself te express soos julle wil?

FOPK: Beide. Dit was eers vir onsself en ek dink met tyd het ons besef watter krag die musiek het. Ons hoop om mense te inspireer om vir hulself te dink en hulle drome te volg. Beide daai dinge is nodig vir society om vorentoe te beweeg en dis wat ons graag sal wil sien.

‘n Dankie uit die bodem van my hart vir Wynand wat die tyd gevat het om met ons te chat. Nelsparta kan nie wag om julle te sien nie. Daar is ietwat van ‘n Babelse gegons van stemme wat die naam “Fokofpolisiekar” dra met opwinding!

Gaan na Fokofpolisiekar se sosiale profiele om hulle op toer te volg. Of as jy in Nelsparta is sien hulle live by Jock Pub & Grill op Vrydag 27 Oktober 2017. Toegang is R100 en wees daar vroeg! Die plek gaan gou vol raak.

As jy nog nie album het nie kry dit op iTunes SAGoogle MusicFokofpolisiekar se website of check Musica uit.

Hier is Fokofpolisiekar se video “Dit is in my bloed, baby”

Marley is the founder and owner of Small Town Music. Born and bred in Nelspruit aka Nelsparta. Marley loves music (rock being a firm favourite), tattoos, festivals, animals and South Africa. Self-taught photographer and writer.